‘n Nare gewoonte wat baie hengelaars het en waarmee ekself ook sukkel, is om te vinnig te hengel. Gewoonlik begin ons soekers uitgooi, naamlik aas wat vinnig beweeg soos spinnerbaits of crankbaits om die aktiewe visse te vang. Maar met tye wat die swartbaars nie wil byt nie, is mens geneig om nog vinnger te hengel want “miskien is ek op die verkeerde plek”, “miskien gebruik ek nie die regte aas” of “miskien nie die regte kleure nie”, “die tyd raak min en ek het nog nie ‘n vis nie”. So karring ons aan sonder sukses en dink nie daaraan om stadiger te hengel nie.

Vir deadsticking is geen spesiale toerusting of spesiale kunsaas nodig nie – net geduld. Alhoewel kleurlose ligte lyn, nie sterker as 14 pond nie, aanbeveel word, hoe ligter, hoe beter want die plastiese wurm moet baie natuurlik sink. Dit is ook nodig dat die lyn direk aan die hoek geknoop moet word, en ek gebruik ‘n Palomarknoop met vertroue. Die wurm word aan ‘n Texas-strop geplaas met ‘n bullet sinker wat vry is om op en af teen die lyn te gly. Gebruik ligte gewiggies, naamlik 1/16 ons vir 10 pond lyn en 1/8 ons vir 14 pond lyn. Die sinker moet vrylik beweeg om so min as moontlik weerstand te bied. Indien jy vind dat jy nie ‘n goeie hook-set kry nie moet jy eerder ‘n Mojo-strop gebruik met die gewiggie ±150mm weg van die aas.

Ligte lyn en ligte sinkers vereis natuurlik klein kunsaas. Dit wil sê vier duim wurms met 1/O grootte hoek. Die gewone straight tail wurms werk beter as wurms met breë sterte en groot aksies.

Deadsticking is baie effektief by ledges en drop-offs, waar die vertikale en horisotae lyne ontmoet. Of wanneer jy in sigbare struktuur hengel, soek altyd ietsie anders as die gewone. Dit kan die dikste boomstomp wees tussen almal; waar twee verskillende soorte watergras bymekaar kom; die enigste klip in die dam; of so iets.

Wanneer jy jou aas uitgooi, gooi altyd so akkuraat moontlik aan die skadukant en verkieslik ‘n entjie verby die struktuur. Voer genoeg lyn uit sodat die aas vertikaal sink maar hou altyd jou oog op die lyn bokant die water. Laat die aas vry-val tot op bodem en laat dit lê - 1 minuut, 2 minute of selfs langer. Jou senuwees sal dit in elke geval nie hou nie en die kans is goed dat jy eerste gaan ingee voordat jy ‘n bytsein ervaar!

Begin die aas baie stadig intrek deur net die stok se punt bietjie te lig en weer te laat sak terwyl die slaplyn opgerol word.

Die meeste byte sal nie eens gevoel word nie, daarom moet die lyn dopgehou word. Enige onnatuurlike beweging op die lyn is ‘n aanduiding dat die vis die aas gegryp het. Dit kan wees dat die lyn horisontaal beweeg in plaas van vertikaal af ondertoe. Die lyn kan skielik stop, styf trek; skielik sak, selfs weer opkom óf net voel die lyn is swaar wanneer jy die stok oplig om ‘n volgende gooi te maak. In ieder geval, maak seker jy kap hard genoeg om die vis uit die struktuur te kry.

Twee Wenke:

Eerstens: Indien die vis die aas gryp en weg van die struktuur swem, verraai die vis die ander wat nog binne of rondom die struktuur is - hy is dus bang die aas gaan by hom weggeneem word. Indien moontlik hou die eerste vis eenkant en gooi gerus weer jou aas uit na dieselfde struktuur. Of, indien die vis jou aas gryp en terugswem struktuur toe, was dit die enigste vis by die struktuur.

Tweede: Wanneer die vis die aas gryp terwyl die aas nog val is dit ‘n aanduiding dat die vis weer aktief begin jag het en kan jy terugslaan na jou gewone manier van hengel. Deadsticking is dus nie meer nodig nie.

Deadsticking kan ook met sukses vir top water crankbaits gebruik word. Gooi die aas uit so naby as moontlik aan jou teiken area en laat dit lê. Weer eens hoe langer hoe beter want een of ander tyd sal óf jou óf die vis se senuwees moet ingee!